‘n Laning val in Plasieland

Die Laan

Vir elke ding in hierdie lewe is daar ‘n keerdatum, raklewe, beste-voor-datum, noem dit wat jy wil. En dit is met groot hartseer dat ons moet aankondig dat ons immergewilde laning daardie datum bereik het.

Ons het oor die laaste paar jaar toenemend bewus geraak van die gevaar wat die bome vir toeskouers en voertuie inhou. Die kennis en raad van boomdeskundiges is ingekry om te kyk hoe ons die laning se lewe kon verleng. Die slotsom waartoe almal gekom het, was dat daar so kundig as moontlik te werk gegaan moet word om die laning stelselmatig te vervang want die bome is reeds te oud en verswak. Dit was nie ‘n besluit wat ligtelik geneem is nie, maar terselfdertyd het ons besef dit kon ook nie onbeperk uitgestel word nie.

Daar is dan ook hierdie afgelope vakansie begin met die eerste fase om bome te laat verwyder deur ervare persone. Ons beoog om die laning te vervang met inheemse bome wat vorentoe vir die nuwe generasies dieselfde skadu, nostalgie en foto-oomblikke sal voorsien.