Nasionale kleure vir Merensky skuts

Ses skuts van Merensky Boogskietklub het die naweek van 15 en 16 Julie aan 2 afsonderlike byeenkomste deelgeneem.

Armand Wiers het op Saterdag, 15 Julie aan die Gautengse ABO 3Di Kampioenskap te Magnum Archery, Pretoria, deelgeneem. Ten spyte van winderige toestande behaal hy steeds ‘n eersteplek in sy afdeling.

Sean Hunt, Canell Jackson, Ricus Warmenhoven, Benéche Jackson en Martin Mostert het op 15 en 16 Julie aan die Noord Gautengse Veldkampioenskap by Archers Edge in Pretoria deelgeneem. Hulle het ‘n gemiddeld van 6 ure per dag in die veld deurgebring. Ricus skiet 2 en Martin 1 provinsiale kwalifisering. Canell skiet ook 2 nasionale kwalifiserings en behaal haar nasionale kleure vir 2017/18. Sean en Canell bring ook elk goud huis toe.

‘n Week later neem Lin-Mari Theron deel aan die Goldfield Binnenshuise Uitdaging en die Vrystaat Provinsiale Binnenshuise Kampioenskap. Op dag 1 was haar telling 297 uit 300 met 35 kolskote en op dag 2 was haar telling 292 uit 300 met 32 kolskote. Sy het albei dae nasionale kwalifiserende tellings geskiet en kwalifiseer ook vir haar nasionale kleure.

[supsystic-gallery id=75 position=center]