Nog ‘n Moo’se sukses

MooPoo 2019

Seker die bekendste en mees suksesvolle tradisie by Hoërskool Merensky, het hom Woensdagmiddag, 16 Januarie, weer by Agri-Merensky op Plasieland afgespeel.

Plaas. Drukgang. Modderwater met ‘n klank. ‘n Massa toeskouers. Dit is wat gewag het op 2019 se nuwe onderwysers, leerders, skiewies en beheerliggaam tydens die MooPoo-seremonie.

Baie jare gelede het hierdie tradisie begin met ‘n gat wat elke jaar naby die hoofingang van die skool gegrou is. Vandag het dit gegroei tot ‘n amptelike, aanskoulike affêre waaraan elke nuwe Plasie met trots deelneem. Daar word gereeld genoem dat niemand verplig is om deur hierdie “diep waters” te gaan nie, maar die massadeelname getuig van die begeerte om op hiérdie wyse ‘n bloubloed Plasie te word.

Eie aan Plasieland, sal MooPoo nog baie jare sorg vir opwinding, ouertrots, samehorigheid en ‘n goeie gees wat die toon vir die res van die jaar sal aangee.