Nuwe kitaar “Snaar” by Merensky

Derius Erasmus

FOTO:
Derius Erasmus


Hoërskool Merensky se Musiek-, Dans-, Drama- en Kunsskool (die MDDK) is opgewonde om mnr. Derius Erasmus as nuwe kitaartutor te verwelkom.

Erasmus is ‘n oudPlasie wat op 17-jarige ouderdom sy kitaartande by Merensky se musiekskool, wat later jare herdoop is tot die MDDK, gesny het.

Behalwe vir sy argitektuuragtergrond is Erasmus ook ‘n kranige fotograaf. Sy musiekvideos, animasies en grafiese werk word hoog aangeslaan.

Die musiekgogga – meer spesifiek die rock-genre – het hom tydens sy studentejare behoorlik gebyt. In 2004 het hy by sy eerste orkes, D-Day 4 Ever, aangesluit. DD4E het twee albums opgeneem, in 2006 by Oppikoppi opgetree en ook later by Woodstock 7 en 8. Die groep het ook 3 singles op Tuksfm gehad.

In 2010-2013 speel hy in die orkes The Dying Breed. Hulle het ook een album opgeneem en by baie feeste opgetree.

Vanaf 2014-2016 was hy kitaarspeler vir die orkes Sayonara. Die gewilde groep speel in 2016 by Oppikoppi en toer die land vol. Hulle neem ook een album op. Derius is trots op die feit dat al die groepe se musiek deur die lede self geskryf is.

Jethro Tull se woorde: “Too old to rock and roll; too young to die” is beslis nog nie op hom van toepassing nie!