Onverskrokke Plasie-praters stel hul saak

Op 26 en 27 Februarie het 23 redenaars van Hoërskool Merensky mekaar die woordstryd aangesê in ‘n poging om die ATKV-uitdunrondte op 25 April te haal.

Die seniors was eerste aan die beurt met ‘n volle dosyn praters. Deelnemers in die voorbereide afdeling, Duné Steyn, Kayla Gaigher, Liza-Ri Snyman, Lisa Maguire, Manica van Schalkwyk, Mariesa Schutte en Amelda Pretorius het die temas: Navigeer, Magnete en Toue op kreatiewe wyse omvorm tot standpunte.

Onverskrokke het Stefan en Suandrie Corbett, Jamie Robertson en Armand de Beer binne ‘n uur hul onvoorbereide toesprake oor die onderwyssisteem aan die gehoor voorgehou.

Die beoordelaars, mee. Chantelle du Toit, Fransie le Roux en mnr. Clinton Gerber het aangekondig dat Liza-Ri Snyman, Manica van Schalkwyk, Mariesa Schutte en Amelda Pretorius deurdring na die eerste rondte. Al 4 die onvoorbereide deelnemers dring ook deur.

Die juniors was eweneens lus vir monduitspoel. Bekwame beoordelaars, me. Christelle le Roux, Hannelie Schoonraad en Trudie Botha het elke woord van die temas: Waarheid, Beelde en Deure fyn beluister.

Deelnemers aan die voorbereide toesprake was Keynan Fox, Zoë Malherbe, Waldo de Kock en Anke Fourie. Al 4 sal sake in die eerste rondte by PHS gaan uitspook.

In die onvoorbereide afdeling het Desi de Jager, Michelle Robertson, Johan van den Heever, Lané Kasselman en Anje Swanepoel binne 60 minute daarin geslaag om te redeneer rondom die onderwerp: Weet mense wat hulle eet en drink? Geluk aan Desi, Michelle, Johan en Anje wat die Plasies gaan verteenwoordig.

In die Addisionele Taal-afdeling het die Nel-tweeling, Simoné en Tylor ook deurgedring na die kompetisie in Polokwane.