Onweer besorg Merensky-krieket ‘n bloedneus

Hoërskool Merensky se 1ste krieketspan het op Saterdag, 13 Februarie, in Potchefstroom teen Hoër Volkskool te staan gekom in die Superliga-reeks.

Merensky kolf eerste en teken ‘n noemenswaardige 233 lopies vir slegs 3 paaltjies in 50 boulbeurte aan. Kolwers wie hul uitstekend van hul taak gekwyt het is Timothy Elphinstone met 77 lopies en Salman Ishani en Nyiko Shikwambana met onderskeidelik 71 en 45 lopies.

Hoër Volkskool het daarna die kolf opgeneem en 120 lopies in 22 boulbeurte aangeteken voor dit weer begin reën het (Merensky se o.15-span moes ook die vorige week die knie buig vir moeder-natuur in Potchefstroom). Die wedstryd is as gevolg hiervan gestaak, en die Duckworth-Lewis formule is gevolg (‘n wiskundige formulering wat ontwerp is om die teikentelling vir die span wat tweede kolf in ‘n beperkte boulbeurte krieketwedstryd, wat onderbreek is deur weer of ander omstandighede, te bereken). Dié formule het bepaal dat Hoër Volkskool die wedstryd met 33 lopies wen.

Hoër Volkskool se o.15-span het op Merensky se tuisveld gespeel en 311 lopies vir 10 paaltjies na 47 boulbeurte op die telbord gesit. Merensky kon egter net 82 lopies vir 10 na 29 boulbeurte aanteken met Rinus Jacobs, MC Claasen en Doran Kleynhans wat moedig geveg en mooi krieket gespeel het.