Plasie-atletiek gaan groot

Mandi Botha, Elandri Janse van Rensburg & Valley Ngobeni. Inlas: Vutomi Mkhabele.

FOTO:
Mandi Botha, Elandri Janse van Rensburg & Valley Ngobeni.
Inlas: Vutomi Mkhabele.


11 tot 15 Februarie was ‘n groot week vir die Hoërskool Merensky atletiekspan. Nie een nie, nie twee nie, maar drie topbyeenkomste het gesorg dat die adrenalienvlakke in die blou gebly het.

Die groep 7 & 8 PUK Interhoër by Hoërskool Alberton was eerste op die kalender op 11 Februarie.

Naas Merensky, het hoërskole Rob Ferreira, Alberton, Uitsig en Curro Hazeldean, Curro Serengeti en St Stithians deelgeneem. Merensky het tweede geeïndig met 720.5 punte, na Rob Ferreira.

Weereens het Elandri Janse van Rensburg (graad 8) en haar spies gespog met 2 toekennings: Junior Victrix Ludorum en Beste Dogter Veldatleet.

Valley Ngobeni (graad 9) het as Beste Junior Seun Veldatleet van die veld gestap, terwyl Mandi Botha (graad 11) as Beste Senior Dogter Baanatleet aangewys is.

By die TUKS Top 10-byeenkoms, op 13 Februarie, het Elandri die spies 37,90m laat vlieg, en so vir haar ‘n tweedeplek tussen 75 skole verseker.

By Hoërskool Hans Strijdom het die Plasiespan kragte gemeet met hoërskole Akasia, Wonderboom, Hans Strijdom, Pretoria-Noord, Frikkie Meyer en HTS Tom Naudé.

Merensky het 11 goue-, 24 silwer- en 16 bronsmedaljes ingepalm. Vier spesiale toekennings het die dag nog meer opwindend gemaak vir die Plasies: Vutomi Mkhabele (graad 12), Senior Victor Ludorum en Beste Senior Seun Baanatleet; Elandri Janse van Rensburg, Junior Victrix Ludorum en Beste Junior Dogter Veldatleet.

Die tafel is gedek vir die atletiekskouspel van die jaar op 22 Februarie, wanneer Plasiepark gaan ontplof met die Soutpansberg Interhoërbyeenkoms.