Plasie-eerstespanne loop voor

Op Saterdag, 25 Maart 2017, het Hoërskool Merensky se rugby-, netbal- en dogtershokkie vriendskaplike wedstryde teen Hoërskool Piet Potgieter in Mokopane gespeel.

Op die rugbyveld het Merensky se 0.14’s die knie gebuig met ‘n 17-27 telling. Die Plasie o.15-span het egter die bordjies verhang en hul wedstryd 14-5 gewen. Merensky se o.16- en 2e-spanne verloor met 7-27 en 21-22. Die 1e-span het weereens bewys dat hul ‘n krag is om mee rekening te hou met ‘n pragtelling van 24-12.

Plasie-netbal maak skoonskip met die volgende tellings: o.14A wen 22-2, o.14B wen 34-1, o.15A wen 15-4, o.15B wen 16-2, o.16A wen 19-10, 2e wen 19-15 en die 1e-span spog met ‘n 32-20 wen.

Op die hokkieveld het Merensky se 1e-span geseëvier met ‘n 3-1 telling. Doele is aangeteken deur Corli van der Merwe, Simoné van den Bergh en Lilly Pohl. Laasgenoemde is ook aangewys as “Speler van die wedstryd”. Die 2de-span speel gelykop in ‘n wedstryd waar geen doele aangeteken kon word nie. Die juniorspanne is oorrompel deur hul eweknieë.

Aangesien Piet Potgieter nie seunshokkie aanbied nie, het die Plasie-spanne na Lydenburg gereis vir wedstrydgeleentheid. Die juniorspanne het nie teleurgestel nie. Die o.14’s wen 1-0 en die o.16’s 4-2. Alhoewel die 2de-span 0-2 verloor het, wys die 1stes hul baasskap met ‘n 4-0 oorwinning. Wayne Coppen het die doelrekening oopgemaak, met JJ Davis wat kort daarna ook ‘n doel bygedra het. Samuel Modiba het opsluit twee spykers in Lydenburg se doodskis geslaan.