Plasie-hokkie April vakansietoer

Corli van der Merwe

Hoërskool Merensky se o.14- en o.15-hokkiedogters het vanaf 20 tot 23 Maart ‘n vakansiekursus in Volksrus bygewoon. Hierdie kursus is aangebied deur die voormalige Springbok hokkiespeler, Kim Hubach.

Die o.14-dogters het hul wedstryde teen Hoërskole Piet Retief, Centurion en Barberton gewen. ‘n Gelykoptelling is teen Hoërskool Kempton Park aangeteken. Die enigste wedstryd wat hulle verloor het was teen Hoërskool Sasolburg. Danielle Kasselman in Graad 8 is aan die einde van die week aangwys as die beste o.14-“striker” van die toernooi.

Die o.15-span het ook skitterend gevaar en al hul westryde teen Hoërskole Piet Retief, Barberton, Ligbron en Centurion gewen en slegs hul wedstryd teen Hoërskool Kempton Park verloor.

Merensky se o.16-dogterspan en o.18 seuns- en dogterspanne het van 30 Maart tot 2 April die TUKS hokkieweek in Pretoria bygewoon. Die spanne het die voorreg gehad om gebrei te word deur die huidige Springbok afrigter, Nicolene Terblanche.

Hier moes die o.16-dogterspan die knie gebuig teen baie sterk kompetisie, maar geglimlag toe hulle teen Afrikaans Hoër Meisieskool se span gelykop speel. Liné Fourie het uitgeblink en is gekies vir die o.16 TUKS “All Star”-span.

Die o.18-dogterspan het tweede uit elf skole geëindig, met wentellings teen Curro Hazeldene (3-0), Afrikaans Hoër Meisieskool van Pretoria se tweedespan (4-1), Hoërskool Dinamika van Johannesburg (2-0) en Hoërskool Montana van Pretoria (3-0). Nadat hulle gelykop gespeel het teen Gateway High School van Harare in Zimbabwe se tweedespan, het hulle in die finaal met 1 punt verloor teen Gateway se eerstespan. Lilly Pohl se skitterende spel het haar die trofee vir die beste o.18-“striker” vir die week besorg, en is sy ook opgeneem in die o.18 TUKS “All Star”-span.

Die o.18-seunspan se kursus is aangebied deur verskeie Springbok- en provinsiale spelers. Die span het afgeskop teen Hoërskool Sasolburg (wat die toernooi gewen het) en 0-2 verloor. ‘n Suksesvolle tweede dag het gesorg vir wenwedstryde teen Hoërskool Louis Trichardt (4-1) en Hoërskool Secunda se o.16-span (3-0). Op dag drie het die seuns met pragspel teen Hoërskool Lydenburg 4-1 gewen, maar later die dag 1-4 verloor teen St. Dominics College van Welkom. Uiteindelik het die Plasies teen Hoërskool Lydenburg se o.16-span ‘n 2-0 wentelling aangeteken en derde in die toernooi geëindig. Die span is baie trots op Augustine Chiloane wat gekies is vir die o.18 TUKS “All Star”-span.