Op 22 Januarie het atlete en ondersteuners in groot getalle op Plasiepark saamgetrek om vanjaar se huissport af te handel, nadat welkome reën die oorspronklike datum in die wiele gery het.
Veral die skiewies in hul veelkleurige huishemde het in groot getalle aan al die items deelgeneem. Tydens hierdie geleentheid het 29 bestaande rekords gespat. Interessant genoeg is dat die rekords by 3 items deur die 1ste- sowel as die 2de-plekke verbeter is.
Huis Aqua het met 879.5 punte as oorwinnaars uit die stryd getree, gevolg deur Huis Ventus met 825 punte. Huis Ignus was derde met 811 punte en Huis Terra in die laaste plek met 754 punte.
Die vier topatlete van die dag was Zané Vosloo, Junior Victrix Ludorum en Klara Pretorius, Senior Victrix Ludorum. Sven Hedin dra die titel van Junior Victor Ludorum en Arno Haasbroek dié van Senior Victor Ludorum.
Die Janus Robberts-byeenkoms is reeds geskeduleer vir 26 Januarie in Polokwane. Die Plasies sien ook met groot verwagting uit na die plaaslike Frikkie Deysel-byeenkoms wat op Vrydag 9 Februarie gaan plaasvind.
FOTOGRAAF: IMCKE VAN VUUREN