Plasie-juniors na kwarteind

Rugbyliefhebbers, noord van die Vaalrivier, het op Saterdag, 28 Julie, regop gesit toe die kwalifiserende skolespanne uitdraf in uitspeelwedstryde van die Virsekerbeker-toernooi.

Hoërskool Merensky se o.14A-, o.15A- en o.16A-spanne het in 3 verskillende provinsies deelgeneem.

Die Merensky o.14’s het in Pretoria teen Hoërskool Overkruin gespeel. Die gasheerspan moes kous-oor-die-kop huiswaarts keer nadat die Plasies hul ‘n rugbyles geleer het. Carl Dohse, Neil van Vuuren en Henro Delport het hul opponente se doelgebied opgesoek. Van Vuuren het 1 van die drieë verdoel. Die manne van Tzaneen het breed geglimlag toe die eindfluitjie blaas met ‘n 17-5 telling op die telbord.

Merensky se o.15-span het in Potchefstroom teen die span van Hoër Volkskool te staan gekom. Die Plasies moes na ‘n verbete stryd die knie buig met 15 punte teenoor die Volkies se 18. Neo Mauwane het Merensky se eerste punte aangeteken met ‘n suksesvolle strafskop, waarna Ruan van Rooyen ‘n drie gedruk het wat deur Mauwane verdoel is. Nog ‘n drie volg daarna deur Dewald van Graan.

Die o.16’s het tuis op Plasiepark Piet Retief die stryd aangesê. Alhoewel hul deeglik van die tuisvoordeel gebruik gemaak het en alles in die stryd gewerp het, moes hul tevrede wees met ‘n finale uitslag van 27-34.

Die Plasie o.14-rammetjies speel weer op Saterdag, 4 Augustus, op Plasiepark teen Piet Retief in die kwarteindronde.