Plasie-krieket begin 2019 op ‘n hoë noot

Krieket o15 2019

FOTO:
DIE O15-SPAN
Voor: Neil van Vuuren, Johan van den Heever, Marais Botha, Carl Dohse, Hendrik Botes, Maan Mistry, Nic de Beer.
Agter: Coach Frans Moila, Phillip Ludick, Ockert Schoeman, Don Hunter, Ruan Huysamen & Henro Delport.


Oor die afgelope twee weke het die o15-span van Hoërskool Merensky 2 superliga-wedstryde gespeel en is tot nog toe onoorwonne.

Die wedstryd teen Midstream op 19 Januarie het op Merensky se tuisveld plaasgevind. Ockert Schoeman se 30 lopies het bygedra tot ‘n 11 lopie-oorwinning.

Op 26 Januarie het die jong span Hans Moore van Benoni gepak. Hulle het ‘n teiken gestel van 200 lopies ná 49.3 boulbeurte. Die besoekers het net 113 lopies in 28 boulbeurte, almal uit, behaal. Ockert Schoeman was weereens een met sy kolf en het 37 lopies op die telbord besorg. Die Plasies het die wedstryd met 87 lopies gewen.

Merensky se eerstespan het op 16 Januarie met ‘n T20-oorwinning teen The Oaks afgeskop. In dié wedstryd het Gerhardus Fourie ‘n driekuns behaal, wat bygedra het tot die Plasies se 9 paaltjie-oorwinning.

In die tweede T20-wedstryd, op 23 Januarie, het Giyani hul wedstryd ontmoet toe hulle almal vir 32 lopies uitgeboul is. Ster-bouler, Gerhardus Fourie, het 4 paaltjies in 4 beurte geneem vir slegs 3 lopies. Abri Wheelen het ook sy merk gemaak met 4 paaltjies in net 3 boulbeurte, met 5 lopies afgestaan. Die Plasie 1ste XI het weer ‘n oorwinning van 9 paaltjies gehad.