Plasie o.14’s oppad na Noordvaal

Die naweek van 14 en 15 Junie het vir groot opwinding op die hokkieveld gesorg. In twee uitspeelwedstryde by Curro Heuwelkruin buite Polokwane, het die o.14-dogters deurgedring na die Noordvaalkompetisie wat op 3 tot 5 Augustus in Nelspruit plaasvind.

Die eerste wedstryd teen Hoërskool Frikkie Meyer het deurentyd gelykop verloop. Die halftydtelling was 0-0, met ‘n eindtelling van 1-1. Na ‘n 8-sekonde doelskiet was die spanne steeds 2 elk, kop-aan-kop. ‘n “Sudden death” ronde het egter gesorg dat Frikkie Meyer na ‘n taai stryd 3-2 gewen het. Spelers van die wedstryd was Janke Basson, Emma Dalrymple-Hay en Nikita Pohl.

Die volgende dag het die hokkiestokke weer geklap in ‘n wedstryd teen Hoërskool Ben Vorster, waartydens die twee spanne geveg het vir die derdeplek. Teen halftyd het Ben Vorster 1-0 voorgeloop, maar die bordjies is vinnig in die tweede helfte verhang met uitmuntende spel deur die Plasiespan. Hulle stap as oorwinnaars van die veld met ‘n 3-1 telling. Palesa Shiluvane en Dezi Dreyer is uitgesonder as spelers van die wedstryd.

Hoërskool Merensky wens hierdie spogspan sterkte toe vir die Noordvaalstryd.

[supsystic-gallery id=70 position=center]