Plasie opedag breek rekords

MHS Opedag 2016

‘n Rekordgetal voornemende Plasies en belangstellende ouers het op Vrydag, 10 Junie 2016, ‘n unieke opedag by Hoërskool Merensky bygewoon. Die tema van ‘n 80-jaar partytjie het gesorg vir ‘n vrolike, uitbundige atmosfeer.

Perderuiters het gaste op die pawiljoen in Plasiestyl verwelkom, waarna man en muis die skoolsaal om feestelike partytjietafels volgepak het. ‘n Dinamiese vertoning het die groot gehoor vasgenael gehou toe die Merensky-boek oopgemaak is en Plasieland se storie op luisterryke wyse aangebied is.

Leerders het na afloop hiervan die terrein verken met verrassings om elke hoek en draai. Die ouers het na heerlike verversings ‘n inligtingsessie saam met mnr. Magnus Steyn (skoolhoof) bygewoon. Allerlei aktiwiteite en vermaak, asook ‘n uitstalling, het gesorg dat daar nie een vervelige oomblik was nie. Geesdriftiges kon meedoen aan onder andere boogskiet, gholf, skaak, kulturele aktiwiteite of ‘n “shout-out” stuur oor Radio Merensky.

Tevrede besoekers kon na afloop van die dag ‘n ingeligte besluit neem oor hulle toekoms; heelparty opgewonde oor die moontlikheid om hul storie in 2017 op Plasieland te begin skryf.