Plasie-rugby April vakansietoere

Rugby toere - Ruan van der Schyff

Rugby kook behoorlik op Plasieland. Behalwe vir die baie suksesvolle NTK MHS Rugbyweek wat gedurende die afgelope skoolvakansie by Hoërskool Merensky aangebied is, het al die ander rugbyspanne ook gaan toer.

Die o.14- en o.16-span het die Hansieweek by Hoërskool Hans Strijdom in Naboomspruit bygewoon. Die o.14-seuns het al hulle wedstryde gewen met ‘n 26-7 telling teen Hoërskool Hoogenhout van Bethal, 31-17 teen Hoërskool Riebeeckrand van Johannesburg en 32-10 teen Hoërskool Lydenburg. Juan Joubert en Ruan van der Schyff is aangewys as spelers van die wedstryd in die eerste twee wedstryde.

Alhoewel die o.16-span eers teen Hoërskool Lydenburg vasgeval het, het hulle Hoërskool Bergsig van Rustenburg met ‘n 25-7 telling laat les opsê. Na ‘n hewige stryd teen Midstream College van Pretoria, het die Plasies met 2 punte verloor.

Merensky se o.15-span het die Thabela Thabang rugbyweek by Potchefstroom Gimnasium bygewoon. Nadat hulle teen Potchefstroom Gimnasium en Vereeniging Gimnasium verloor het, het hulle die week goed afgesluit met ‘n 19-5 wen teen Hoërskool Hans Moore van Benoni.