Plasie-rugby op koers

FOTO:
DIE O.15-SPAN
Voor: Neil Delport, Duan Gubitz, Chandler Demos, Danie Potgieter, Wicus Swart en Andru Miller.
Middel: De Marco Meyer, Dawie van Heerden, Pieter Engelbrecht, Jerome Stander, Jabus Erasmus, Khabelo Mabotja en JeCe Swart (afrigter).
Agter: Jason Janse van Rensburg, Jan Naudé, Tiaan Tönsing, Duan Rossouw, Ebertes Schnettler, Vian Diedericks, Gerhardus Fourie, Ruan van der Schyff, Thato Phalane, Zander Steyn en Thomas Joubert (afrigter).


Hoërskool Merensky se rugbykorps is duidelik en seker op koers.

Die o.15-seuns het die afgelope naweek in die Verseker Beeld Trofee kampioenskappe te Potchefstroom teen Potchefstroom Gimnasium kragte gemeet in die uitspeelbeen van hierdie gewilde kompetisie.

Die vyftiental het aan verwagtinge voldoen en trots, met ‘n 31-21 oorwinning, van die veld gestap. Danie Potgieter spog met 3 drieë, terwyl WB Grobler en Kabelo Mabotje ook elke ‘n drie bygedra het. Andru Miller het 3 doelskoppe deur die pale gejaag.

Die volgende naelbytstryd vind op Saterdag, 12 Augustus in Witrivier plaas wanneer dié wenspan teen Hoërskool Rob Ferreira in die kwartfinaal uitdraf.

Hierdie oplewing kan onder andere toegeskryf word aan die onvermoeide ywer en voortdurende vaardigheidsontwikkeling van die Plasie-rugby afrigters.

Afrigters Clinton Gerber, Johannes Seerane, Pieter van der Merwe, Frik Dohse en Jece Swart het reeds in Januarie met die Wêreld Rugby Vlak 2 kursus begin. Na die inisiële afrigtingskursus moes elkeen ‘n seisoen se wedstryde analiseer en oefeninge beplan om sodoende foute en tekortkominge in die spel om te keer. ‘n Portfolio van 6 wedstryde en oefeninge is in ‘n finale assessering voorgehou, waarna ‘n praktiese oefensessie aangebied moes word wat ook beoordeel is. Plasieland kondig met trots aan dat al vyf hierdie manne hul opleiding suksesvol voltooi het.

Nog 3 afrigters het ook hul Wêreld Rugby Vlak 1 afrigterkwalifikasie se teorie- en praktiese afdelings suksesvol voltooi. Geluk aan mnre. Arno Last, Richard Coleman en Corrie Large.

Op die sewesfront is dit eweneens woelig met 3 afrigters wat hul 7’s Wêreld Rugby Vlak 1-kwalifikasie ontvang het op 28 Julie te Loftus. Mnre. Clinton Gerber, Johannes Seerane en Frik Dohse het ook hier hul merk gemaak.