Plasiehokkie beïndruk

Die Plasie eerste dogtershokkiespan.

Die dogtershokkiespanne van Hoërskool Merensky het op 17 en 23 Mei op hul tuisveld teen die spanne van Hoërskool Ben Vorster te staan gekom in die voorlaaste ligawedstryde vir dié seisoen.

Die o.14’s het mooi hokkie gespeel, maar kon nie afrond in die sirkel nie en moes die stryd gewonne gee met 0-1 op die telbord. Die spelers van die wedstryd was Rochelle Volschenk en Tarien van Staden.

Die o.15-dogters het in die eerste paar sekondes hul eerste doel aangeteken met ‘n gesamentlike poging deur Zuleika Ferns en Luné Fritz. Emma Dalrymple-Hay het die tweede doel aangeteken wat die Plasies  met ‘n 2-0 oorwinning van die veld laat stap. Die spelers van die wedstryd was Marine Potgieter en Janke Basson.

Met ‘n telling van 0-3, kon die o.16-span nie die mas opkom nie, terwyl die 2de-span beïndruk met ‘n 2-0 oorwinning met Diane Dent en Joné Geyer as spelers van die wedstryd.

Tydens die hoofwedstryd het Merensky die Vossies deurentyd gedomineer. Doele is aangeteken deur Tharien Lombard en Juanet Venter terwyl Ben Vorster geen geleentheid in die doelhok gegun is nie. Merensky wen 2-0.  Superspeler van die wedstryd was Kesia Pohl.

Die Plasie o.15-seunspan het hul ondersteuners nie teleurgestel nie. ‘n Doel deur André Venter was die spyker in die Vossiedoodskis. Luca de Sousa is aangewys as die speler van die wedstryd.

Die tweedes het in ‘n taai stryd 1-1 gelykop gespeel. Andrew Graham het die doel aangeteken en Francois Smith was die speler van die wedstryd. Masilo Mabilo in die eerstespan het in die eerstehelfte ‘n pragtige doel aangeteken. Die Vossies het egter die tweedehelfte oorheers  en drie doele aangeteken.