Plasiepraters spoel mond uit

Op Maandag, 6 Maart en Woensdag, 8 Maart het die redenaars van Hoërskool Merensky stemme verhef ten einde te bepaal wie deurgaan na die eerste ronde van die ATKV-kompetisie.

Twee puik spanne beoordelaars het kopgekrap om die toppraters aan te wys.

In die juniorafdeling word Mariesa Schutte (graad 8) met haar toespraak “Tieners boelie ouers, ‘n sirkus van ‘n ander formaat”, aangewys as wenner in die voorbereide afdeling. Op haar hakke volg Amelda Pretorius (graad 9), Mienke Lombard (graad 9) en Retief Fourie (graad 8). Die onderwerp vir die onvoorbereide afdeling was “Moet selfone in die klas gebruik word.” Suandrie Corbett (graad 9) kraai koning met Jamie Robertson, Crystal Kirstein en Ikne Stucki in die daaropvolgende plekke.

In die addisionele taalafdeling word Mapula Matjokotja (graad 8) as wenner aangewys met haar toespraak “Kletsrym is nie vir sussies nie”. Peace Chiloane en Mia Nkuna blaas in haar nek.

Wat die seniors aanbetref was die stryd fel. Uiteindelik seëvier Marlu McLean (graad 12) met “Die kamera maak ons die kluts kwyt” in die voorbereide afdeling, met Liza-Ri Snyman, Eduard O’Reilly en Antje-Marise Lombard in haar skaduwee. Niemand kon by Stefan Corbett (graad 10) in die onvoorbereide afdeling kers vashou nie. Die onderwerp “Bestaan selfoonverslawing werklik?”, is van alle kante deur hom, Liné Fourie, Liza-Ri Snyman en Cara Baker bespreek.