Plasies beplan vir toekoms

Einstein-aand

Hoeveel tieners weet wat hulle na skool wil doen?

Hoërskool Merensky het op 28 Februarie weer ‘n Einstein-aand aangebied. Hierdie keer was die fokus op beroepe en het leerders die geleentheid benut om uit die perd se bek die lekker en sleg van verskeie beroepe te ondersoek.

Nege professionele persone het hul beroepe met die Plasies kom deel en vertel wat hulle elke dag doen. Punte soos akademiese- en keuringsvereistes, tersiêre instellings, finansiële pakkette en die pyn en plesier verbonde aan verskeie professionele rigtings is bespreek.

Dankie aan Niël Scholtz (Meganiese Ingenieur), Anica Scholtz (Entrepreneur en fotograaf), dr. Charnette Steele (Mediese Praktisyn), Zanel Jooste (Arbeidsterapeut), Adri Venter (Fisioterapeut), Gisela van Zyl (GIS koordineerder), Marguerite Hide (Hortoloog) en Allen Hide (landboukundige) wat hul ervaringsveld met Plasieland gedeel het.

Kwartaallikse Einstein-aande word deur die Wetenskappe- en Wiskunde departemente by Hoërskool Merensky aangebied om leerders se algemene kennis en verwysingsraamwerk te vergroot.