Plasies by Nasionale Spelathon

Twee slimkoppe van Hoërskool Merensky, Lize Crafford (graad 10) en Letilda Pohl (graad 9) het op Saterdag 24 Oktober in Johannesburg deelgeneem aan die finale rondte van die ATKV nasionale spelathon.

Vyftien leerlinge van regoor die land het in die graad 9 en die graad 10 eindrondte sake uitgespook. Die bekende Riaan Cruywagen was die seremoniemeester en die bekende RSG taalfundi, dr Anton Prinsloo, was die vraesteller.

Dit was ‘n naelbytstryd met die gehoor wat ywerig saamgespel het. By albei rondtes was die leerlinge so goed, dat daar uiteindelik na ongesiene woordlyste oorgegaan is om te bepaal wie die topspeller in die land is. Deelnemers van die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein het uiteindelik koning gekraai. Elke deelnemer is bederf met ‘n propvol ATKV-geskenksak.