Plasies gekies vir TV-vasvra

DIE SUPERSPAN Casper Jordaan, me. Claudia Olivier, Juan-Jacques Moller en Bianca Elbrecht.

FOTO

DIE SUPERSPAN
Casper Jordaan, me. Claudia Olivier, Juan-Jacques Moller en Bianca Elbrecht.


Die bekende vermaakkunstenaar, Snotkop het kragte saam met VIA-kanaal (DSTV, kanaal 147) gesnoer om ‘n televisie-vasvraprogram genaamd Die Superskool aan te bied. Ten einde hiervoor te kwalifiseer, is hoërskole regoor die land genooi om deur middel van ‘n kort bekendstellingsvideo in te skryf. Hierdie video moes die drie spanlede, die betrokke onderwyser en iets van die skool weergee.

Hoërskool Merensky se kreatiewe span het dadelik ingespring en geskikte kandidate geïdentifiseer, aangesien hierdie ‘n wipwarit-vasvra met ‘n verskil gaan wees.

Nie alleen word leerders se algemene kennis getoets nie, maar ook hul wetenskap-, wiskunde- en taalvaardighede. Daarna is ‘n geïnspireerde video in rekordtyd saamgestel.  Wát was die vreugde groot toe daar op Vrydag, 23 Junie, aangekondig is dat die Plasie-inskrywing deurgedring het na die kompetisie. Opnames word in die komende skoolvakansie gemaak, waarna die program in September gebeeldsend word.

Plasieland hou duim vas vir me. Claudia Olivier en spanlede Casper Jordaan, Bianca Elbrecht en Juan-Jacques Moller. Almal is positief dat die R250 000 prysgeld reeds geoormerk is vir Hoërskool Merensky.