Plasies hou uit en aan in die saal

Die Suid-Afrikaanse Internasionale Perde-uithourit uitdaging (SAIC) is van 24 tot 28 April in Bethlehem aangebied. Plasiesruiters, Jehan Goosen (graad 10) en me. Alexandra Dreyer het saam met 400 perde en ruiters vanaf so ver as Amerika, Engeland en Australië, aan hierdie gesogte kompetisie deelgeneem.

Dreyer begin op 24 April met die opwindende 80km-uithourit en eindig in die tweedeplek.

Goosen en Dreyer het ook ingeskryf vir die moordende 120km-kategorie op 28 April. Na 80km het Dreyer in die 2de-plek gelê, maar eindig 23ste met ‘n tyd van 7 ure en 30 minute. Sy het teenspoed beleef nadat haar perd op 100km ‘n skoen verloor het en sy vir 20km langs die perd moes draf om beserings te verhoed. Goosen se rit het op 80km geeïndig as gevolg van die perd se kondisie en rowwe terrein.

Hoërskool Merensky wens hierdie twee ruiters alles van die beste toe vir hul voorbereiding om in Julie aan die wêreldbekende 200km uithourit in Fauresmith in die Vrystaat deel te neem.

[supsystic-gallery id=46 position=center]