Plasies maak hokkie-geskiedenis

DIE FRIKKIE DEYSEL SENIORSPAN: Talon Griffiths, Luann Botha, me. Gretha van Staden (afrigter), Donovan van Tonder, Gideon Engelbrecht en Andrew Graham.

FOTO
DIE FRIKKIE DEYSEL SENIORSPAN: Talon Griffiths, Luann Botha, me. Gretha van Staden (afrigter), Donovan van Tonder, Gideon Engelbrecht en Andrew Graham.


Die hokkiespelers van Hoërskool Merensky wou nie na afloop van die hokkieseisoen die hokkiestokke ophang nie. Daarom is inisiatief geneem en het Fives Hockey vir die eerste maal op Plasieland die lig gesien.

Fives Hockey is die nuutste trend wat ‘n korter weergawe van die tradisionele hokkiewedstryd is, in tred met internasionale sportkodes soos krieket (T20), rugby (7’s) en sokker (5’s). Hierdie blits-manier van hokkie speel is reeds verhef tot ‘n olimpiese sport.

By Merensky kon die spelers oor die afgelope twee weke by ‘n junior- of seniorliga vir seuns of dogters inskryf. Elke span het ‘n Plasienaam gekry.

In die junior dogtersafdeling wen die Loeries die Macs, 6-4. Die Rustons sit die Bosvarke ore aan in die junior seunsafdeling, met ‘n 7-2 loesing.

In die senior dogtersafdeling wen die Macs die Loeries, 8-5. Die Frikkie Deysel senior seunspan oorwin die senior Rustons, 4-2.