Plasies maak ‘n verskil

Megan Meyer, Kayla Gaigher, Jaco van Staden, Michaela Stanley, Meggan Cloete, Hardus van Staden & Suandrie Corbett.

FOTO:
Megan Meyer, Kayla Gaigher, Jaco van Staden, Michaela Stanley, Meggan Cloete, Hardus van Staden & Suandrie Corbett.


Deur Suandrie Corbett

Ons maak ‘n bestaan deur dit wat ons kry, maar ‘n lewe deur dit wat ons gee – Winston Churchill

Vanaf 26 tot 30 November 2018 het 7 Merensky-leerders hul residensiële-projek vir die Goue Presidentstoekenning by Tshega Christian Mission, 30km buite Tzaneen in die Bolubedu gebied, voltooi.

Die leerders het die voorreg gehad om ‘n bietjie van hul tyd en liefde te gee, in ruil vir ‘n lewensverrykende ervaring. Die vrywilligers se hooftaak was die verf en versier van die skool se nuwe badkamers. Die Merensky-groep het hul tyd verder verwyl deur kreatiewe kunsprojekte saam met die kinders aan te pak, Bybel- en ander lesse aan te bied, in die somerson speletjies te speel en saam met die Duitse vrywilligers by die voedingskema te gaan uit help.

Die hoogtepunt van die week was defnitief om deel te kon wees van die Kerspartytjie vir die kinders wat deel uitmaak van die voedingskema. Die oorvloedige dankbaarheid van die gemeenskap het almal diep geraak.

Die gemeenskap kan betrokke raak by Tshega deur finansiële bydraes (maandeliks of eenmalig), of deur deel te word van hul vrywilligersprogram. Kontak gerus vir Melissa by 078 133 2991.