Plasies omarm spelvrees

Anize Basson en Yasmine Joubert.

FOTO:
Anize Basson en Yasmine Joubert by die ATKV Spelathonfinaal.


Uit die mond van Anize Basson, graad 11

As deelnemer aan die ATKV Spelathonfinaal 2018 kan ek my ondervinding in een woord opsom: STRESVOL. 

Die Spelathonfinaal is hierdie jaar in Stellenbosch se HB Thom Teater gehou. In dié stylvolle teater was die tafel gedek vir vele finaliste uit al die streke van Suid-Afrika.

“Ensiklopedieë,” fluister Professor Gerhard van Huysteen, aanbieder van die TV program Op Die Spel en skrywer van ‘n weeklikse taalrubriek op RSG, in die mikrofoon. Dalk het hy dit geskree? Dis moeilik om te bepaal bo die stresvlakke wat dreig om jou te verswelg. Jou hart klop so vinnig dat jou skoolbaadjie skud soos ‘n blaar in die Suidooster, die kollig is op jou – wegkom… wegkruip? Die mikrofoonhengelaar is voor jou. Dis tyd om die ellelange spellyste op te roep, jou mond oop te maak en te s-p-e-l.

Jy sluk. Die kaalkop-prof staar deur jou, hy sien jou toekoms, jou verlede, jou hoop en drome terwyl hy wag. Die gehoor lyk soos ‘n see van koppe. Jy sien die afkondiger, bekende nuusleser Daniella van Heerden. Jy weet êrens sit mnr. G.S. Lemmer, uitvoerende hoof van Kultuur by die ATKV. In die donker agter jou sit die ander 17 deelnemers, die beste twee uit elke provinsie.

“Herhaling ‘seblief”, stotter jy jou hulpelose versoek uit.

Hy herhaal.

Jy spel. Later sal jy nooit rêrig seker wees wat jy gespel het, of gedínk het, terwyl jy gespel het nie.

Dan, in ronde 3, hoor jy die gevreesde: “Dis verkeerd”.

In hierdie milieu is dit ‘n hartseer affêre as jy ‘n spelfout maak. Kyke vol meegevoel val op ‘n ou se skouers. Ondertussen bewe jy selfs nog méér, indien dit moontlik is… Jy kan jouself skop.

En so word jou ergste vrees bewaarheid by die nasionale ronde van Spelathon 2018. Vir ewig sal hierdie dag, 13 Oktober, onthou word as die dag toe jy ‘n spelfout gemaak het voor ‘n menigte bekendes, ‘n paar geliefdes en ‘n magdom vreemdelinge.

Hoërskool Merensky is trots op Yasmine Joubert in graad 8 (Afrikaans AT, junior) en Anize Basson in graad 11 (Afrikaans HT, senior) met hul deelname aan hierdie vreesaanjaende, tog fantastiese geleentheid. Vir hierdie twee is spel soos tjoklits, as jy dit eers geproe het, kan jy dit nie weer laat staan nie.