Plasies presteer by FAK Afrikaans Skole-Ekspo

FOTO:
Vlnr: Laryn Prins, Eljana Fleischmann, Bianca Spies, Marlu McLean en Klarissa Nel. Afwesig: Monique de Lange.

Merensky-leerlinge het vir die negende jaar weer met welslae aan die Afrikaans Skole-Ekspo, aangebied deur die FAK, deelgeneem. In die kategorie Opstel het Bianca Spies in graad 11 met haar opstel, Bou jou Legkaart, goud behaal met 82%. Sy is ook as wenner in daardie afdeling benoem.

Die oorhoofse tema vir 2015 by die FAK Afrikaans Skole-Ekspo 2015 was Afrikaans 90. In 1925 het Afrikaans die amptelike taal in Suid-Afrika geword. In 2015 is Afrikaans dus 90 jaar lank al ’n amptelike taal. Wat beteken dit vir vandag se jongmense en hoe help hulle verseker dat Afrikaans oor ’n verdere 90 jaar nog sal bestaan en gebruik word? Merensky-leerlinge is deel van die Afrikaanse jeug wat wys dat Afrikaans nog vir ‘n verdere 90 jaar en langer homself as voorkeurtaal sal kan handhaaf in ons moderne samelewing.

Die ander leerlinge wat ook hulle goed van hulle taak in verskeie kategorieë gekwyt het is Marlu McLean wat in die kategorieë Advertensie en Jip-rubriek drie silwer toekennings ontvang het. Laryn Prins het ook silwer toekennings in die Jip-rubriek, Poësie- en Tekenkuns-kategorieë ontvang. Monique de Lange het in die kategorie Poësie ook drie silwer toekennings ontvang. Eljana Fleischmann, Klarissa Ne len Laryn Prins het ook in die kategorie Opstel elk ‘n brons toekenning ontvang.

Hartlik geluk aan al hierdie leerlinge. Hulle het met hul kreatiwiteit en entoesiasme weereens ‘n moeilike tema aangepak en groot sukses behaal.