Plasies pronk by Pop-Ups

FOTO:
Casper Jordaan, Lize Crafford en aanbieder, Bianca Elbrecht.


Hoërskool Merensky se jaarlikse talentaand het op Donderdag, 3 Augustus, weer asems weggeslaan. 19 Items het in 6 kategorieë meegeding om te bepaal wie 2017 se top kultuurtiere is.

Die twee graad 11 aanbieders, Monique Zhanda en Bianca Elbrecht, het geskitter met kwinkslae en die program vlot laat verloop.

Cara-Mia Baker het met haar weergawe van “Mama” die gehoor verstom en welverdiend weggestap met die prys vir die beste solo-vokale kunstenaar.

In die drama-afdeling het Valeriia Avdysh en Riëtte Warmenhoven vermaak uit die boonste rakke verskaf en ook hier die prys verower.

Janco Blignaut, graad 10, se vlytige vingers het die Steinway behoorlik laat les opsê en in die instrumentale afdeling met sterk kompetisie koning gekraai. Die instrumentale-duet is gewen deur die 2 “cowboys”, Jaco van Staden en Tian Viljoen op hulle kitare.

Meester danser, John Slabber, vir oulaas op die Plasie-verhoog, het sy vuurdanskuns ten toon gestel en die eerste prys gewen.

Lize Crafford en Casper Jordaan het vokaal- en dramakragte saamgesnoer ten einde die gehoor op hul voete te bring met hul duo-aanbieding oor die wel en weë van ‘n matrikulant. Nie alleen wen hul dié afdeling nie, maar word ook aangewys as die gehoorgunsteling.

Ongelukkig moet Plasieland nou weer 365 dae wag om 2018 se skouspel te beleef.

[supsystic-gallery id=93 position=center]