Plasies speel kookwater krieket

Abrie Wheelan en Brett Richter.

FOTO:
Abrie Wheelan en Brett Richter (o.15).


Hoërskool Merensky se o.15 krieketspan het op Saterdag, 3 Februarie, wenkbroue laat lig deur Jeugland, ‘n makroskool in Kempton Park, bloedneus te gee.

Merensky het eerste gekolf en 118 lopies, in 44 beurte, aangeteken. Hendrik Botes het koning gekraai met die kolf en 24 lopies agter sy naam geskryf.

Plasieboulers het gekook en Jeugland in slegs 19 beurte uitgeboul vir 60 lopies. Phillip Ludick neem 4 paaltjies en staan slegs 6 lopies af, terwyl Kadin Albertus 3 paaltjies oes vir 14 lopies.

Die Plasies stap van die veld met ‘n 58 lopie oorwinning.


Op Woensdag, 31 Januarie, in ‘n T20-wedstryd teen Frans du Toit van Phalaborwa, het die Merensky 1ste-span geseëvier met 8 paaltjies. Beste kolwers was Shaahil Shaikh (33) en Mubin Patel (19). Kieran Albertus was topbouler, neem 4 paaltjies in sy 4 beurte en staan slegs 14 lopies af. Merensky wen die wedstryd met 8 paaltjies.