Plasies spel pad oop na landwye finaal

Dinsdag 1 September het vir groot opwinding gesorg toe die uithaler Afrikaans huistaal-spellers van Hoërskool Merensky en Hoërskool Pietersburg in Merensky se Teatro teen mekaar testaan gekom het vir die Limpopo uitdunne van die landwye ATKV Spelathon.

Die graad 9-span van Merensky, Letilda Pohl en Francois Nöthnagel, het onderskeidelik die eerste- en tweede plekke ingeneem om as Limpopowenners uit die stryd te tree. Hulle twee gaan in Oktober aan die nasionale kompetisie in Gauteng deelneem.

By die graad 10’s, bestaande uit Lize Crafford en Marlu McLean, het Hoërskool Pietersburg die span van Merensky ongelukkig ore aangesit en die Plasies se Lize Crafford behaal ‘n derde plek.

Woensdag 2 September was dit die beurt van die Afrikaans Eerste Addisionele Taal spellers, wie na Warmbad gereis  het vir hierdie kompetisie. Vier leerlinge elk in graad 9 en 10 het al die pad soontoe neus in die boek gesit om die moeilike Afrikaanse woorde baas te raak.

Thabiso Shai, Michelle Fivas, Belinda Luckhoff en Cameron Buys in graad 9, en Amelia Middleton, Hayley Stephenson, Chelsea Shlebusch en Tahiyya Moosa in graad 10 het slegs 24 uur gehad om voor te berei, maar het in pure Plasiestyl met ywer en moed en durf hul bes gelewer.  Ongelukkig het die senuwees geknaag en is nalatige foute begaan, maar die leerlinge het baie nuwe woorde bygeleer en kan nou nóg beter spel.

Hayley Stephenson het die eerste plek in die Afrikaans Eerste Addisionele Taal, graad 10 behaal en Merensky is baie trots om aan te kondig dat sy dan ook Limpopowenner in hierdie afdeling is.  Sy gaan 17 Oktober aan die ATKV se nasionale spelathon in Gauteng deelneem.