Plasies vat Fransies vas

o.15 Rugby vs FDT

FOTO:
Die Plasie o.15-span straal na hul oorwinning.


Op Saterdag, 6 April, het die rugby- en hokkiespanne van Hoërskool Merensky in vriendskaplike wedstryde kragte gemeet met die spanne van Hoërskool Frans du Toit in Phalaborwa.

Op ‘n nat rugbyveld het sake vir die Plasies van die begin af al blink gelyk toe die o.14A-seuns die Fransies met 24-0 klop. Die o.15A’s het nie op hulle laat wag nie en het weer met die Fransies afgereken, 34-0. Merensky se 2de-span het hard gewerk om met ‘n 21-17 wen van die veld te stap. Die o.16A-span het die kroon gespan met ‘n allemintige 38-7 oorwinning. Plasieland se 1e XV moes tevrede wees met ‘n 17-17 gelykop telling.

Merensky se junior- en senior seunshokkiespanne het die Fransies ook goed vasgevat. Die o.14-seuns wen Frans du Toit 5-1, terwyl die 1e-span amok maak met ‘n pragoorwinning van 9 doele teenoor 0.

Die begeesterde hokkiedogters het toeskouers beïndruk met hul spelvernuf. Die o.14’s behaal ‘n ongelooflike 10-0 oorwinning, met die 1e-span wat eweneens puik spel lewer en 8-0 seëvier.

Op die sokkerveld het dinge egter nie so voorspoedig verloop nie en moes die Plasies die knie buig met 0-2 en 2-4 tellings vir die juniors en seniors onderskeidelik.