Plasies vat Fransies vas

Die rugby-, hokkie-, netbal- en sokkerspanne van Hoërskool Frans du Toit in Phalaborwa het op Saterdag, 20 Mei op Plasieland gaan kuier vir vriendskaplike- en ligawedstryde.

Op die rugbyveld het Hoërskool Merensky skoonskip gemaak: die o.14A’s wen 54-5, o.15A wen 52-13, o.16A wen 19-7, die tweedespan wen 41-12 en die eerstespan wen 54-14. In die eerstespan is drieë gedruk deur Richard Coleman (1), Delux Jooste (1), Ryno van Burick (2), Jehan Goosen (1), Kevin van den Bergh (1), Dylan Herrendoerfer (1) en Masedi Manamela (1). Doelskoppe is deur die pale gesit deur Wynand Scholtz (2) en Delux Jooste (5).

Op die hokkieveld het die o.14- en eerstespan seuns hul staal gewys. Die o.14-span wen 4-1 met doele wat deur John-Robert Honiball, Luca de Sousa en Alrich Katzke geslaan is. Honiball is aangewys as speller van die wedstryd. Tydens die eerstespanwedstryd het JJ Davis die eerste doel aangeteken. Luann Botha se finale doel verseker ‘n 2-1 wen vir Merensky.

Merensky se dogters het ook gesorg vir uitstekende hokkie. Die o.14’s wen 9-0. Die o.15’s het hul opponente gestormloop en sit ‘n oortuigende 12-0 op die telbord. Spelers van die wedstryd was Bianca Prinsloo en Danielle Kasselman. Die eerstespan het gesorg vir groot opwinding en wen hul wedstryd 8-0, met Roelien O’Neill gekroon as speler van die wedstryd.

Op die netbalbane het die Plasies en Fransies sake uitgespook vir ligapunte. Merensky se o.14A- en B-spanne byt die spit af met 8-24 en 10-11 tellings. Die o.15A- en B-spanne verhang egter die bordjies en wen 26-10 en 18-11. Frans du Toit se o.16A’s seëvier met ‘n 15-17 telling. Merensky se seniorspanne was te sterk vir die Fransies: die tweedespan wen 11-10 en die eerstespan spog met ‘n 26-18 wen.

Op die sokkerveld het die Fransies beide die junior- en senior-wedstryde oorheers met ‘n 4-2 wen.

[supsystic-gallery id=52 position=center]