Plasies wen weer kaskar

Twee Plasiespanne het opgeruk na die NG-kerk, Letsitele, se gewilde kaskardag wat weer op 28 Julie by Laerskool Dr Annecke plaasgevind het.

Soos in die verlede het die dag weer gesorg vir heerlike kos, gesellige kuier, groot gees en baie opwinding.

Agt hoërskoolspanne het teen mid-dag mekaar die stryd aangesê; Merensky 1 en 2 in hul blou (geborg deur Gubitz-boerdery) en geel (geborg deur NTT Toyota) hemde.

Die deelnemers het, in tipiese hoërskool-styl, begeesterde toeskouers dikwels na hul asems laat snak. Plasieland se brawe bestuurders en flinke stoters het die eerste- en vierdeplekke losgehol. Dit is die twaalfde keer sedert die pretdag 19 jaar gelede begin is, dat die Plasies triomfeer.

Naaswenners was Frans du Toit, waarna Rainbow derde oor die wenstreep gerol het. Frans du Toit het die geesbeker ingepalm.