Ricus groet Merensky boogskiet

Ricus Warmenhoven

Ricus Warmenhoven, ‘n matrikulant aan die Hoërskool Merensky, is pas uit 150 hoopvolles gekeur as “Team Magnum” boogskut vir 2016. Dit is bekend dat skuts van die Merensky boogskietklub fyn dopgehou word, en is dit ‘n groot eer om deel van hierdie mega boogskietgroep te wees. Net 15 skuts oor die land word jaarliks gekies om Magnum (die grootste boogskiet winkelgroep in Suid-Afrika) te verteenwoordig.

Hoërskool Merensky salueer Ricus, spankaptein vir die afgelope drie jaar, vir sy puik prestasies en groet hom met trots. Hy is al die afgelope 9 jaar lid van die Merensky boogskietklub, waarvan hy vir die laaste vyf jaar lid van die eerstespan was. Vanaf 2011 tot 2015 is hy as provinsiale kampioen gekroon, en het ook vanaf 2012 tot 2014 as nasionale kampioen sy merk gemaak. Vir ses jaar het hy provinsiale kleure verwerf, en een jaar nasionale kleure. Hy neem twee maal aan die wêreldkampioenskappe deel en verdien in 2013 ‘n silwer medalje.

In 2014 word hy aangewys as die “Beste van die beste”-skut deur ABO, geen geringe prestasie as in aanmerking geneem word dat dit die kompetisie is waar al die wenskuts van die jaar, ongeag styl of ouderdom, teen mekaar deelneem om die topskut van die jaar te bepaal.

Ricus bedank op sy beurt sy mentors, mnr. Ockert le Roux en mev. Marietjie Harmse, en meer onlangs ook mev. Yolandi Potgieter. Die kameraderie van die Plasieskuts sal hom altyd bybly.