Sewes rugby kraai koning

FOTO:
Voor: Delux Jooste, Dylan Herrendoerfer en Bornwise Thibela.
Middel: Noko Malatji, MJ Bench, Shaun Lombaard, Rasenge Kubayi en Masedi Manamela.
Agter: Mnr Drikus Viljoen (afrigter), Joe Raspel, Elmo Julies, Pieter Coetzer, Mikyle le Roux (kaptein), MJ Mulder, Wynand Scholtz en Mnr Clinton Gerber (afrigter).


Die sewes rugbyseisoen het Saterdag 15 Augustus met mening tydens ‘n vriendskaplike toernooi by Hoërskool Frans du Toit afgeskop. Hoërskool Merensky, HTS Tom Naudé en Hoërskole Frans du Toit, Rob Ferreira, Lowveld, Barberton, Capricorn, The King’s Court en Sybrand van Niekerk het mekaar by hierdie opwindende sportdag die stryd aangesê.

Hoërskool Merensky se eerste-span het hul seisoen op ‘n hoë noot begin deur die strawwe toernooi te wen. Hulle het in die semi-finale teen HTS Tom Naudé 12-5 gewen en in die Beker-finaal teen Hoërskool Frans du Toit, met ‘n telling van 29-12, breëbors van die veld gestap.

Die Plasie tweede-span verloor teen Hoërskool Sybrand van Niekerk in die “Bowl”-finaal en eindig vierde in die toernooi.

Die o.15A-span het tweede geëindig in hul ouderdomsgroep en so weggestap met die Skild vir die dag.

Met hierdie puik prestasies is dit duidelik dat daar ‘n uithaler seisoen op die Plasie-spanne wag. Die wortel van die Rhino 7’s wat later vanjaar deur Merensky-rugby in die Krugerwildtuin aangebied word, behoort ook hierdie spanne doelgerig aan te spoor.