Spesiale vaarwel aan Merensky-matrieks

Op 22 Oktober is Plasieland se graad 12-leerlinge geseën met ‘n laaste spesiale kerkdiens en prysuitdelingseremonie.

Die graad R-maats van die SAVF Kleuterskool het hulle ondersteuning getoon deur ‘n voorsmakie van ‘n Springbokwedstryd in konsertvorm op te voer. Die graad 1-leerlinge van Laerskool Tzaneen het ook ‘n paar wyse woorde tot die matrieks gerig, en hul toe toegesing.

Die hoofleiers van Laerskole Dr Annecke, Duiwelskloof en Tzaneen het die matrieks toegespreek. Elkeen het op sy unieke manier die Plasies bemoedig deur hulle te herinner hoe vinnig tyd verbygaan en dat elkeen die beste van die eindeksamen moet maak.

Met die vertoon van ‘n gedenkvideo van hul laaste vyf jaar op Plasieland, het Magdi Kasselman en Loamé van Zyl die trane laat vloei met ‘n afskeidliedjie. Daarna het pastoor Rassie Pretorius die diens waargeneem met ‘n gepaste, persoonlike boodskap uit sy ouerhart.

Tradisioneel is die beesklok, wat laas in hul graad 8-jaar gelui het, weer deur elke matriek gelui en so is die kringloop voltooi – van skiewieplasie tot volbloedplasie.

Die gehoor het reggeskuif vir die matrieks se laaste prysuitdelingseremonie.

Mynhardt Bouwer het twee toekennings ontvang: vir boere-ordentlikheid, asook die hoogste kultuurtoekenning.
Ricus Warmenhoven ontvang die trofee vir uitsonderlike navorsing.

Die UK-trofee vir uitsonderlike diens het gegaan aan Kristie Badenhorst.

Rassie Pretorius is bekroon as sportman van die jaar.
Kelsy-Ann Mostert het ‘n erepenning ontvang vir haar goue medalje by die SA-atletiekbyeenkoms.

Honorustoekennings is gemaak aan Dylan Oosthuyse en Mynhardt Bouwer wie, as deel van die SA-Bokkieweekspan in Nederland hokkie gespeel het, asook aan Mikyle le Roux, as lid van die SA Sewes Rugby Bokkieweekspan.

Die DUX-leerling van 2015 is Andrea Devenish, wie ook die toekenning ontvang het as Plasie van die jaar.