ORGANISEERDER
ORGANISEERDER
2024 Datums
2024 ATLETIEK NUUS & FOTO-ALBUMS
INTERHUIS – 22 Januarie 2024
Op 22 Januarie het atlete en ondersteuners in groot getalle op Plasiepark saamgetrek om vanjaar se huissport af te handel, nadat welkome reën die oorspronklike datum in die wiele gery het.
Veral die skiewies in hul veelkleurige huishemde het in groot getalle aan al die items deelgeneem. Tydens hierdie geleentheid het 29 bestaande rekords gespat. Interessant genoeg is dat die rekords by 3 items deur die 1ste- sowel as die 2de-plekke verbeter is.
Huis Aqua het met 879.5 punte as oorwinnaars uit die stryd getree, gevolg deur Huis Ventus met 825 punte. Huis Ignus was derde met 811 punte en Huis Terra in die laaste plek met 754 punte.
Die vier topatlete van die dag was Zané Vosloo, Junior Victrix Ludorum en Klara Pretorius, Senior Victrix Ludorum. Sven Hedin dra die titel van Junior Victor Ludorum en Arno Haasbroek dié van Senior Victor Ludorum.
FRIKKIE DEYSEL BYEENKOMS – 9 Februarie 2024
Op Vrydag 9 Februarie het atletiekliefhebbers op Plasieland bymekaargekom om die vriendskaplike Frikkie Deysel Atletiekbyeenkoms te vier. Verlede jaar moes hierdie geleentheid swig voor die reënweer, maar vanjaar was die wolke in die guns van prag-atletiek.
Die ses deelnemende skole, Merensky Landbou Akademie, Hoërskool Pietersburg, HTS Tom Naudé, Hoërskool Frans du Toit, Hoërskool Louis Trichardt en Stanford Lake College het met goeie gees op Plasiepark gekompeteer. Die geesdriftige aanmoediging vanaf die pawiljoen het beslis bygedra tot topprestasies.
Die Plasie-atlete het hul besonder goed van hul taak gekwyt met 38 goud-, 37 silwer- en 30 bronsmedaljes. Veels geluk aan Sven Hedin in graad 9 wat die titel van Junior Victor Ludorum dra. Klara Pretorius in graad 12 spog nóg ‘n keer met die titel van Senior Victrix Ludorum.
Marelie van der Merwe van PHS was die Junior Victrix Ludorum en Mokgale Mamabolo van Stanford Lake College was die Senior Victor Ludorum.
Knap gedaan aan die Pieties wat die byeenkoms gewen het, met die Plasies in die 2de-plek en Hoërskool Louis Trichardt, 3de.
JANUS ROBBERTS BYEENKOMS – 26 Januarie 2024
Tydens die Janus Robberts Atletiekbyeenkoms op 26 Januarie te Hoërskool Pietersburg, het Plasieland se atlete hul besonder goed van hul taak gekwyt.
Vroeg in die seisoen spog die Plasies met ‘n 2de-plek, ‘n kortkop agter die gasheerskool. Daar is ook ‘n totaal van 23 goue, 36 silwer en 24 bronsmedaljes ingepalm. Boonop het die atlete in blou ook drie rekords laat spat. Geluk aan Klara Pretorius, JP Botha en Dawid van den Bergh wie se name nou by hierdie byeenkoms se rekordstate pryk.
Sven Hedin in graad 9 is aangewys as die beste junior seunsbaanatleet, en dra ook welverdiend die titel van Junior Victor Ludorum. Plasieland se top-atleet, Klara Pretorius spog ook met die toekenning vir beste senior dogtersbaanatleet, die beste enkel prestasie deur ‘n dogter en word ook bekroon as die Senior Victrix Ludorum.
LOUIS TRICHARDT BYEENKOMS – 16 Februarie 2024
INTERHOËR @ FRANS DU TOIT – 23 Februarie 2024
Op 23 Februarie het die Plasie-atlete met splinternuwe atletiekdrag by Hoërskool Frans du Toit in Phalaborwa aan die Verre Noord Interhoër deelgeneem.
Hier het die Plasies as naaswenners uit die stryd getree met 1044 punte teenoor die 1129 van Hoërskool Pietersburg. Hoërskool Louis Trichardt was 3de met 804, HTS Tom Naudé was 4de met 689.5, Hoërskool Frans du Toit 5de met 509.5, Northern Academy 6de met 386 en Hoërskool Eric Louw het die agterdeur toegemaak met 140 punte.
Tydens hierdie bloedig-warm byeenkoms het die Plasies gepronk met verskeie toekennings. Klara Pretorius is aangewys as die beste senior dogtersbaanatleet en dra die titel van Senior Victrix Ludorum. Sven Hedin is op sy beurt aangewys as die beste junior seunsbaanatleet en spog met die Junior Victor Ludorum-titel. Die Viking-sangspan het in die 3de plek geëindig.
NWU SUPER 16 INTERHOËR – 26 Februarie 2024
Op 26 Februarie het al die atlete na Sasolburg gereis om aan die NWU Super 16 Interhoër by die DP de Villiers Stadion deel te neem. Die NWU Interhoër bestaan uit 64 skole wat in agt groepe deelneem. MLA het verlede jaar 1ste in groep 5 geëindig, wat beteken dat Plasieland vanjaar in groep 4 gekompeteer het. Groep 3 en groep 4 het tydens die geleentheid saam deelgeneem, met Hoërskool Driehoek wat as gasheerskool opgetree het. Deelnemende skole in groep 4 was Hoër Volkskool Potchefstroom, Hoërskool Linden, Bergsig Akademie, Hoërskool Rob Ferreira, Hoërskool Driehoek, Hoërskool Eldoraigne, Hoërskool Hugenote en Merensky Landbou Akademie.
Ook hier het die Plasie-atlete opslae gemaak met ‘n uiteindelike 2de plek, naas Hoërskool Eldoraigne, met ‘n naelskraap verskil van slegs 18 punte. Die dogterspan was in die tweede plek en die seunspan in die derde plek. Superster Sven Hedin het ook hier die Junior Victor Ludorum-toekenning ontvang. Die Plasies het boonop trofees vir die beste dogters hekkies-, die beste dogters naellope-, die beste seuns spronge- en die beste dogters spronge spanne ingepalm.