Steinway in die hoofrol

Mnr. Magnus Steyn knip die lint, met Mari Weber wat aanmoedig.

FOTO:
Mnr. Magnus Steyn knip die lint, met Mari Weber wat aanmoedig.


Die kollig het op Woensdag, 11 Oktober, op Hoërskool Merensky se 60-jaar oue Steinway geval. ‘n Besondere funksie het hulde gebring aan hierdie gerestoureerde, ou meester.

Kaartjies is reeds vroeg in September opgeraap vir Mari Weber en vriende (Carel Mouton, Alida du Preez en Anriette van Rooyen) se unieke toneelstuk, Wat van die Steinway, spesiaal geskryf vir dié geleentheid.

Met groot fanfare is ‘n lint geknip, waarna oud-Plasie Righard Linde en sy eggenoot, Ingrid, die voorprogram afgeskop het. Janco Blignaut, ‘n graad 10-leerling wat reeds sy UNISA graad 6 klaviereksamen agter die blad het, het ook onder luide toejuiging die Steinway laat weerklink.

Gaste was dit eens dat dié professionele toneelstuk ‘n treffer was. Lewensgetroue karakters het met hul kinkels en kwinkslae die gehoor in die holte van hul hand gehou. Hiermee is weereens bewys dat musiek en toneel trefkrag het soos min.