deur: Johan Smith
Jy leef in ‘n wêreld van prestasie. Mense gaan tot groot uiterstes om hulself die heel tyd te verbeter. Ouers grens aan mal soos hulle uitgawes aangaan vir hul kinders se privaat afrigting en ekstra klasse. Dis asof jongmense vandag in ‘n hok gesit word soos ‘n perd by die wegspring van die jaarlikse July perdewedren. Oogklappe word opgesit en as daardie hok oopgaan moet jy hol vir jou eienaar (ouers) en niemand mag voor jou eindig nie. Langs die baan staan fanatiese ondersteuners (ouers en onderwysers) en skreeu kliphard: “vinniger, vinniger, hoër, hoër!”
Die hele samelewing is so ingestel wat tot gevolg het dat jongmense bykans voor die voet besig is met ‘n baie gevaarlike speletjie waarin daar geen wenners is nie. Die speletjie noem ons sommer reguit die vergelykingspeletjie. Die hele tyd is jy besig om jouself met ander te vergelyk. Wie is die mooiste? Wie is die sterkste? Wie is die slimste? Wie hardloop die vinnigste? Wie spring die hoogste? Wie is die oulikste? Wie…Wie…Wie… Jongmense se koppe is in die rat en kan net nie daar uitkom nie. Dis hoe hulle gekondisioneer is as gevolg van die prestasie-gedrewe wêreld waarin hulle oorwinnend probeer leef.
Wie wen die speletjie uiteindelik? Niemand nie! Die een aaklige en ongelukkige geheim van die vergelykingspeletjie is dat jy altyd jou swakpunte vergelyk met die sterkpunte van ‘n ander. Jy mag dalk die mooiste in jou klas wees, maar wat van die pragtige dogter in die ander klas of ander standerd? Jy mag dalk die vinnigste in jou skool wees, maar wat die ander vinniger outjie in die buurskool? Jy mag dalk ‘n mooi lyf hê, maar op die strand sien jy vele ander wat beter lyk as jy. Die tydskrifte en televisie is ander harde werklikhede wat jou maak altyd tweede kom in die vergelykingspeletjie.
Iewers moet jy hard skree: “STOP!!” Dit is besig om baie jongmense se lewens totaal te verwoes. Onthou dat jy in ‘n wêreld leef met ‘n stel standaarde, maar dat jy eintlik tydelik in die wêreld is. Daardie ewige koninkryk waartoe God se kinders behoort het ‘n totaal ander stel standaarde. In die lewe moet wat God oor jou sê en dink jou gedagtes totaal oorheers en jou lewe bepaal. Psalm 139: 13-14 is maar een van vele Skrifgedeeltes wat iets vertel van hoe God na jou kyk:
U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder. Ek wil U loof, want U het my op ‘n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering.
Hoeveel mense vandag kan daardie woorde oor hulle lippe neem en dit werklik bedoel? Kom ons wees baie eerlik met mekaar: baie min mense. Jongmense sien eerder die te maer, of te vet bene raak. Hulle sien eerder die lastige puisies raak as die wonder van God se handewerk agter die puisies. Hulle is heeltemal te veel gefokus op die uiterlike eerder as die innerlike. In 1 Samuel 16: 7 is God se standaard en wat vir God belangrik is duidelik uitgespel:
Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike.