Swem Plasies swem

Daniel Smit

FOTO:
Daniel Smit


Hoërskool Merensky se interhuis swemgala het op Maandag, 10 September, onder luide toejuiging plaasgevind.

Al vier die huise (Ventus, Terra, Ignis en Aqua) was goed verteenwoordig in en om die water. Daniel Smit (graad 9) en Marc Wigginton (graad 12) het rekords verbeter in die 100m vryslag- en 100m rugslag items.

Hierdie jaar het die leerkragte die uitvoerende komitee uitgedaag vir ‘n aflossessie. ‘n Klop op die skouer vir die onderwysers wat in Chad le Clos-styl geseëvier het.

Die “tjoepie”-resies in huisverband was ‘n hoogtepunt, wat gesorg het vir vet waterpret.

‘n Week later het die Plasie-swemspan in die bloedigwarm Musina sake in die interhoër swemgala uitgespook.

Amelia Booth, graad 8, het bewys dat swem vir haar net so maklik gebeur as langafstande hardloop. Sy verwerf 4 goud (vir die 200m individuele wisselslag, 50m vryslag, 100m rugslag en 50m vlinderslag) en 1 silwer medalje, en hiermee die titel Junior Victrix Ludorum. Kagiso Hoaene het ook ‘n goue medalje met die 50m borsslag ingepalm.

Merensky se junior aflosspanne het ook puik presteer met die o.14 dogters en die o.15 seuns wat hul onderskeie 4 x 50m wisselslagaflosse gewen het.

Altesaam 39 medaljes (5 goud, 15 silwer en 19 brons) keer saam met die Plasies huis toe. Merensky is trots daarop om hierdie jaar as naaswenners van ses skole uit die stryd te tree.