Twee Plasie-rugbyspanne deur na Limpopo finaal

MHS 1e Rugbyspan - Limpopo semi-finaal

Vyf uit vyf van Hoërskool Merensky se liga rugbyspanne het gekwalifiseer om op Saterdag, 11 Junie in die Limpopo semi-finale (en 2e-span finale) vir mediumskole te Louis Trichardt deel te neem.

Uithaler rugby was aan die orde van die dag. Alhoewel die o.15- (12-22), o.16- (27-41) en 2e-(0-25) spanne in naelbyt wedstryde verloor het, het Merensky se vlagskip 1e-span, sowel as die belowende o.14-rammetjies geseëvier.

Die o.14-span het teen Hoërskool Piet Potgieter te staan gekom en bewys waarom hul hierdie seisoen as een van die gunsteling spanne in Limpopo beskou word. Hulle het die wedstryd 17-5 beklink. Op Saterdag, 23 Julie sal hulle kragte meet teen die span van Hoërskool Ellisras in die Limpopo finale.

Hoërskool Merensky se 1e-span het voortgebou op die seisoen se prestasies en in ‘n aanskoulike wedstryd teen Hoërskool Hans Strijdom koning gekraai met ‘n pragtelling van 35-6. Drie strafskoppe is deur Masedi Manamela deur die pale gesit. Drieë is gedruk deur Noko Malatji (2), Freddie Lubbe (1) en MJ Bench (1) en drie hiervan is verdoel deur Manamela. Hulle sal op 23 Julie Hoërskool Ben Viljoen van Groblersdal die stryd aansê.

Albei hierdie topspanne is met hierdie prestasie verseker van ‘n plek in die prestige 2016 Beeldtrofee-toernooi.

FOTO

DIE EERSTESPAN
Voor: Wynand Scholtz
Ry 2: Richard Coleman, Joe Raspel, Ettienn Slabbert, Freddie Lubbe, Delux Jooste, Clifford Sekgobela, Noko Malatji en Henkus Steenkamp.
Ry 3: Qiniso Madzhiga, Kevin van den Bergh en Dylan Herrendoerfer.
Agter: Jean-Luc Burger, Ruurd Jacobs, Almo Julies, MJ Bench, Armand Steyn, Christopher Hamilton-Fowle, Timothy Elphinstone, Jan-Carel Pretorius, JD le Grange, Masedi Manamela, Morné Small en Vhuthu Mutshinyali.