Vet praat-pret op Plasieland

Hlayisanani Shingangi, Lulama Mkhawana, Shumikazi Ngonyoza en Palesa Shiluvane.

FOTO:
Hlayisanani Shingangi, Lulama Mkhawana, Shumikazi Ngonyoza en Palesa Shiluvane.


Hoërskool Merensky is bekend as ‘n skool van eerstes op kultuurgebied. Op 24 en 25 Mei is nog ‘n baan gebreek toe ‘n uitdunronde van die landwye Radikale Redenaarkompetisie by die nuwe MDDK-sentrum op eie bodem plaasgevind het. Behalwe die Plasies, het laerskoolleerders van Laerskole Phalaborwa en Phalaborwa Noord ook kom monduitspoel.

Die kompetisie verskil van die ATKV-redenaars in die sin dat daar geen voorgeskrewe temas is nie en dat leerders aangemoedig word om hul eie toesprake te skryf en te lewer. Daar is interessante afdelings wat tweetalige en eksperimentele toesprake insluit. Verder kan leerders ook gedigte en prosa voorlees en selfs hulle pennevrug ingee vir beoordeling.

Wat die geleentheid nog meer besonders gemaak het, is dat die Engelstalige leerders ook vir die eerste maal die geleentheid gehad het om op redenaargebied stem dik te maak. ‘n Verblydende 20 leerders het individueel en in spanne gekompeteer. Daar het 45 Afrikaanssprekende leerders aan hierdie opwindende kompetisie deelgeneem.

Al die bekkiges wag in spanning om te hoor of hulle straks die streekfinaal in Augustus gaan haal.