Voetslaners trotseer eendeweer

FOTO

Vlnr: Reinhardt Erasmus, Pieter van der Merwe, Armand Cronjé, Dirk Albertyn, Jenelle de Jonge, Crystal Kristein, Rifqah Moosa, Lize Mostert, Jan-Carel van Niekerk, Juan-Jacques Moller en Gideon Engelbrecht.

Hoërskool Merensky se 11 brons President’s Award kandidate het Vrydagmiddag, 26 Februarie met hul staptog van 25 km begin. Wat gelyk het na ‘n heerlike sonskynnaweek het vinnig verander in nat en koue toestande. Die roete het by die skool begin, oor Komatiland en Merensky se bosbougebied, via Debegeni tot by die Magoebaskloofdam.

Die tog tot by die Rooikoppies oornaghuis het goed afgeloop.  Nadat die stappers hulle eie vuur en aandete aanmekaar moes slaan, het ‘n goeie nagrus gesorg dat hulle uitsien na dag 2 se uitdaging. Die welkome reënbui wat feitlik vir 12 km aangehou het, het nie die stappers verhoed om vir 150 m teen ‘n hoogte van 650 m bo seespieël te klim en klouter nie.

By Debegeni is middagete voorberei, maar eers nadat die brawes die glyklippe aangedurf het. Die uitsig oor die Magoebaskloofdam was teen die einde van die roete definitief die moeite werd, alhoewel die voetslaners ‘n oog moes ophou vir krokodille en seekoeie. Verskeie voëlspesies en selfs ‘n slang is langs die roete geïdentifiseer.

Hierdie staptog is die eerste van ‘n reeks aktiwiteite wat moet plaasvind vir kandidate om hul gesogte bronstoekennings te ontvang. Die tweede groep bronsstappers sal in Augustus aan hulle staptog deelneem.