Waarom Presidentstoekennings by Merensky?

Presidentstoekennings - Bianca Spies en Micaela Ball

Twee matrikulante van Hoërskool Merensky, Bianca Spies en Micaela Ball, het onlangs onderskeidelik ‘n silwer en brons Presidentstoekenning ontvang.

Om hierdie gesogte toekenning te ontvang, moes hulle onder andere ‘n sekere aantal maande ‘n sport beoefen het. ‘n Nuwe vaardigheid moes ook aangeleer word, byvoorbeeld die speel van ‘n musiekinstrument of ‘n draai op die verhoog maak as lid van die skool se dramaklub.

Hulle moes ‘n sekere aantal gemeenskapsure doen. Micaela, wie volgende jaar Mediese Wetenskappe gaan studeer en gaan spesialiseer in dierkunde (hopelik kry sy wel keuring vir Veeartsenykunde), het meeste van haar ure aan die mediese versorging van diere spandeer.

Bianca, wie reeds by 3 universiteite keuring gekry het vir Medies, het haar gemeenskapsure by verskeie praktyke en hospitale gedoen wat ook haar liefde vir die mediese wereld aangevuur het. Albei het ook ‘n strawwe staptog onderneem in die pragtige Magoebaskloof-area.

Hierdie twee bewys die waarde van ‘n Presidentstoekenning. Sou ‘n voornemende student aansoek doen by universiteite, tel hierdie vlak van ‘n Presidentstoekenning behaal vir die finale M-telling.

Dit is dus vanselfsprekend dat hierdie toekenning al gewilder raak onder Plasieland se leerders.  Behalwe vet pret, vele fisiese uitdagings en diens aan jou medemens, bied dit ook ‘n waardevolle bydrae tot voorgenome tersiëre onderrig.