Wintersport skop af

Sias Wagner hou ‘n spanpraatjie saam met die juniorspelers.

Dit is weer tyd vir wintersport op Plasieland en almal sien met verwagting uit na goeie rugby, netbal en hokkie hierdie jaar.

Hoërskool Merensky het die seisoen by die horings gepak deur die naweek van 3 en 4 Maart as voorbereidingstyd te gebruik. Op die Plasie-rugbyvelde, -netbalbane en -hokkievelde het dit behoorlik gegons met gedetermineerde sportseuns en –dogters.

Merensky rugby het Vrydag afgeskop met ‘n oefenkamp, waartydens Sias Wagner (Blou Bulle hoë-prestasie afrigter) en Dewey Swartbooi (Blou Bulle o.19 en o.21 agterlynafrigter, asook Tuks se Young Guns-afrigter) die seuns touwys gemaak het in agter- en voorspelfassette. Saterdag kon die seuns hul staal wys tydens die voorseisoenproewe, waarna die spelers en hul ouers saam met die afrigters gekuier het by ‘n beginjaarfunksie.

Merensky netbal het op Vrydag hul uitdunne afgehandel, waarna 11 spanne gekies is. Hierdie spanne is op Saterdag aangekondig voor vriendskaplike oefenwedstryde teen Pietersburg Hoërskool. Volgens me. Irma de Lange (Merensky netbal organiseerder) het dié wedstryde in ‘n besonder goeie gees plaasgevind en kon elke Plassie en Pietie hard werk, maar ook elke oomblik geniet.

Merensky se senior seunshokkiespan het ook die bal aan die rol gesit deur Saterdag ‘n oefenwedstryd teen die Tzaneen-dorpspan te speel. Albei spanne moes na ‘n gestoei tevrede wees met ‘n gelykop 2-2 op die telbord.