Wintersport vs Ellisras

Suandrie Corbett (o.16A)

FOTO:
Suandrie Corbett (o.16A)


Hoërskool Merensky het op Saterdag, 14 April, aan die eerste rugby ligawedstryde vir die seisoen teen Hoërskool Ellisras deelgeneem. Dogtershokkie en netbal het vriendskaplik deelgeneem.

Die Plasies se dogtershokkiespanne het skitterend presteer. Die o.14-span het die toon aangegee met ‘n
3-2 wen. Die o.15-dogters het 1-1 gelykop gespeel, maar daarna het die o.16’s weer die wenstreep voortgesit met ‘n 6-0 wen. Die 2de-span het nie op hul laat wag nie en ook met ‘n telling van 6-0 koning gekraai. Die vlagskip 1ste-span het die dag mooi afgerond met ‘n 4-2 oorwinning. Amrie Kotze (o.14), Nikita Pohl (o.15), Bianca Prinsloo (o.16), Sancha van Niekerk (2de) en Corli van der Merwe (1e) is aangewys as spelers van die wedstryde.

Op die netbalbaan het 5 van die 8 Plasiespanne die septer geswaai. Alhoewel die twee o.14-spanne, asook die o.15A-span, se opponente te sterk was, het die o.15B’s 12-7, o.16A’s 26-5, o.16B’s 15-8 en 2des 13-8 geseëvier. Die 1ste-span het seker gemaak die Plasies kan op hul trots wees en spog met ‘n fenominale 43-10 wen.

Op die rugbyveld het die Plasie o.14A-span met goeie spel gesorg vir ‘n 34-19 oorwinning. Die ander spanne moes die knie buig: o.15 12-18, o.16 24-30, 2e 13-24 en 1e 17-36.

Hoërskool Merensky se volgende ligawedstryde vind op 21 April, tuis te Plasiepark, plaas teen Hoërskool Hans Strijdom van Mookgophong.