Woelige Plasies by Vula Vula

Saterdag, 8 September, het die speke behoorlik gesing tydens die jaarlikse Vula Vula padwedren by ATKV Eiland Spa.

Hierdie wedren is aangebied deur die NG Kerk, Letsitele en hordes fietsryers het vroegdag aangemeld, waaronder etlike Merensky-padfietsryers.

In die 45km wedren het Annaline Rood en Jodi Spaumer 2de- en 3de-plekke in die Sub Junior Meisies-afdeling ingeneem. In die Sub Junior Seuns-afdeling trap Johan van den Heever ‘n 1ste-plek los, met Jurgens Spaumer kort op sy hakke, 2de. Gunther Katzke, 1ste, en Benjamin Freitas, 4de, het in die Youth Boys-afdeling Merensky se naam hoog gehou.

In die junior seuns en –meisies afdelings spog Merensky met 3 eersteplekke: Laryn Bezuidenhout oor 45km, Armand Cronjé (wat 70km kafgedraf het) en Sheldon Muller oor die moordende 100km.

Die Plasies het hul duidelik nie laat onderkry deur die wind van voor nie. “Die wind het ons spoed probeer breek, maar ‘n Plasie gaan lê mos nooit!”, aldus ‘n opgewonde Cronjé na afloop van die wedren.