Tydens die Janus Robberts Atletiekbyeenkoms op 26 Januarie te Hoërskool Pietersburg, het Plasieland se atlete hul besonder goed van hul taak gekwyt.
Vroeg in die seisoen spog die Plasies met ‘n 2de-plek, ‘n kortkop agter die gasheerskool. Daar is ook ‘n totaal van 23 goue, 36 silwer en 24 bronsmedaljes ingepalm. Boonop het die atlete in blou ook drie rekords laat spat.
Geluk aan Klara Pretorius, JP Botha en Dawid van den Bergh wie se name nou by hierdie byeenkoms se rekordstate pryk.
Sven Hedin in graad 9 is aangewys as die beste junior seunsbaanatleet, en dra ook welverdiend die titel van Junior Victor Ludorum. Plasieland se top-atleet, Klara Pretorius spog ook met die toekenning vir beste senior dogtersbaanatleet, die beste enkel prestasie deur ‘n dogter en word ook bekroon as die Senior Victrix Ludorum.
Dis duidelik dat Plasie-atletiek witwarm oorgehaal is vir groot dinge. Die Top 14 TUT-byeenkoms op Pilditch is volgende aan die beurt op 31 Januarie. Atletiekliefhebbers kan uitsien na 9 Februarie wanneer die Frikkie Deysel-uitnodigingsbyeenkoms op Plasiepark aangebied word.