Merensky verf Witrivier BLOU

Op Saterdag, 22 April, het Hoërskool Merensky se wintersportspanne opgetrek na Hoërskool Rob Ferreira in Witrivier. Seëvierende eerstespanne het gesorg dat die Plasies moeg, maar tevrede huis toe keer.

Op die rugbyveld het die seniorspanne hul stempel afgedruk. Die o.16A’s wen 22-7, die tweedespan wen 14-0 en die eerstespan kraai koning met ‘n 19-15 telling.

Hokkiemanne en –meisies het Plasieland trots gemaak met 5 wenwedstryde. Die o.16-seuns wen 2-0 en die eerstespan teken vier pragdoele aan, teenoor Robbies se nul. Die hokkiebokkies gee alles met die o.15-span wat die toon aangee en 5-0 wen. Die tweedespan eindig met ‘n briljante 7-2 wen, terwyl die eerstes 3 doele teen 1 aanteken.

Plasie-netbal bou voort op hul wentradisie en teken in totaal 176 doele aan, teenoor Rob Ferreira se 134. Die eerstespan maak amok met ‘n telling van 52-20. Die tweedespan vaar eweneens goed en wen 25-9. Die o.14- en o.16-spanne wen al hul wedstryde en die o.15A’s teken ‘n 18-15 wentelling aan.