Plasie-kunstenaars betower

Hoërskool Merensky se MDDK (musiek-, dans-, drama- en kunsskool) het die tweede kwartaal op luisterryke wyse afgesluit met ‘n Thrilling Wednesday in die skoolsaal. Twee maal per jaar kry Plasie-kunstenaars die geleentheid om voor ‘n gehoor op te tree en só hul voortgesette vordering ten toon te stel.

Woensdag, 28 Junie het aan alle verwagtinge voldoen met ‘n puik program, bestaande uit ‘n verskeidenheid items wat strek van voordrag tot sang, dans en musiek. Die gehoor het heerlik meegeleef en die kunstenaars aangespoor om hul beste te gee.

Vir die eerste keer het die kunsleerlinge ook ‘n uitstalling van sketse en beeldhouwerk aangebied. Hierdie skool-binne-die-skool gaan van krag tot krag onder leiding van puik tutors.