Wintersport-triomf vir Merensky

EERSTESPAN: Micke Venter, Bernalee Benadé, Donné Oosthuizen, Kgabo Mamorobela, Ciné Venter, Noko Mabilo, Musa Hlungwane, Dineo Shokane en Zenelde Schoeman (kaptein).

FOTO
EERSTE NETBALSPAN: Micke Venter, Bernalee Benadé, Donné Oosthuizen, Kgabo Mamorobela, Ciné Venter, Noko Mabilo, Musa Hlungwane, Dineo Shokane en Zenelde Schoeman (kaptein).


Op Saterdag, 4 Maart, het Plasieland gegons tydens hul eerste vriendskaplike wintersportbyeenkoms teen Hoërskool Ellisras.

Wat hierdie datum gedenkwaardig maak is ‘n nuwe 16-man sweepslaantradisie wat vir die eerste keer voor aanvang van die eerste rugbyspanwedstryd plaasgevind het. Daarna het die Plasies op die rugby-, sokker-, dogtershokkie- en netbalfront gewys wie’s baas.

Die o.14A-rugbyspan het die veld geopen met ‘n pragwen van 17-7. Die B-span verloor naelskraap, 15-19. Die o.15A’s moes tevrede wees met ‘n 5-15 verloor. In naelbytwedstryde eindig die o.15B- en o.16B-spanne gelykop.

Merensky se senior rugbyspelers het nie teleurgestel nie. Alhoewel die derdespan ‘n 7-22 nederlaag gely het, het die tweedespan met ‘n pragoorwinning van 33-3 van die veld gestap. Merensky se vlagskip, die eerstepan, kraai koning met 16-14 op die telbord. Eerstespan drieë is gedruk deur JD le Grange en Dylan Herrendoerfer. Wynand Scholz het twee strafskoppe suksesvol afgestuur.

Die twee skole se sokkerspanne het ook op die dag kragte gemeet. Die juniorspanne teken geen doele aan nie. Plasieland se seniorspan spog breëbors met ‘n 4-0 oorwinning.

Hoërskool Ellisras se hokkiedogters kon nie daarin slaag om ‘n enkele punt teen Merensky aan te teken nie. Plasieland se o.14A- en o.15A-spanne wen 6-0.  Die o.16A-span eindig gelykop, terwyl die eerstepan vir groot vreugde gesorg het na ‘n 12-0 oorwinning. Eerstespandoele is aangeteken deur Juanet Venter (5), Clariska Venter (2), Lilly Pohl (2), Kesia Pohl (2) en Roelien O’Neill (1).

Op die netbalbaan het sake net so voorspoedig verloop. Die o.14A’s wen 18-12 en die o.14B’s, 11-8. Die o.15A’s wen 13-8, terwyl die o.15B’s, 12-17 verloor. Die o.16A-span wen 15-14, met die o.16B’s gelykop, 7 elk. Die eerste netbalspan triomfeer met ‘n oortuigende 37-23 eindtelling.

Merensky neem op Saterdag, 11 Maart, tuis deel aan vriendskaplike wedstryde teen HTS Tom Naudé van Polokwane.